Boerseep

Boerseep verrig!

'n Tydlose wonder van die plaas wat steeds vandag wondere verrig.

Min dinge is so diep in die Suid-Afrikaanse kultuur gewortel soos die veelsydigheid en eenvoud van 'n oorspronklike koekie Boerseep. Hierdie bekende wit seep het oor dekades heen 'n trotse plek in verskeie huishoudings gevind. 

Wat baie vandag as 'n nostalgiese produk beskou, het 'n eenvoudige maar tog indrukwekkende geskiedenis - een wat hand aan hand loop met die lewe van die eerste pioniers en trekboere van ouds.

Oorsprong en Geskiedenis:

Die oorspronklike konsep van Boerseep het sy ontstaan in die dae van die Groot Trek(1835-1840) en die vroeë boerdery gemeenskappe van Suid-Afrika gemaak.

Omdat mense uit hierdie gemeenskappe dikwels vêr van dorpe en winkels gewoon het, moes hulle baie van hul eie basiese produkte skep - soos onder andere kerse en seep. 

Die tradisionele resep het bestaan uit dierevet (soos byvoorbeeld beesvet of skaapvet) wat dan saam met loog (gemaak van houtas en water) gekook is. Dié eenvoudige mengsel het 'n stewige , natuurlike seep opgelewer wat baie doeltreffend was om vuil en vet van bykans enigiets te verwyder.

Mettertyd is die resep deur verskeie gemeenskappe aangepas, maar die beginsel het egter dieselfde gebly: 'n natuurlike, sterk en betroubare seep sonder bymiddels of sintetiese geure.

Gebruike van Boerseep:

Boerseep is bekend vir sy veelsydigheid. Daar is bykans geen huishoudelike taak waarvoor dit nie gebruik kan word nie!

1.   Wassery; dit verwyder hardnekkige vlekke uit klere - veral vet, wyn of selfs bloedvlekke.

2.   Skoonmaak; dit dien as 'n uitstekende skoonmaakmiddel vir teëlvloere, kombuis oppervlaktes en ook silwerware.

3.   Persoonlike gebruik; verskeie mense gebruik dit selfs as liggaams/handseep, aangesien dit sag is op die vel en vry van enige harde chemikalieë.

4.   Troeteldiere; omrede dit 'n natuurlike produk is wat geen gifstowwe bevat nie, is dit ideaal om troeteldiere mee te was en ook selfs diere hokke skoon te maak. Dit is sonder twyfel 'n ware ''alles in een'' produk wat vandag weer en weer gebruik word in 'n era waar omgewingsvriendelike, volhoubare produkte en leefstyl keuses voorkeur geniet.

Goeie eienskappe van Boerseep:

Wat Boerseep uniek en besonders maak, is sy natuurlike samestelling. Die produk bevat geen kleurstowwe, preserveermiddels of enige sintetiese geure nie. Die vet basis sorg vir 'n sagte en vogtige gevoel op die vel, terwyl die loog die seep se reinigende eienskappe verder versterk.

Nog 'n unieke voordeel is dat dit ook biologies afbreekbaar is - met ander woorde dit laat geen skadelike stowwe in die grond of water agter nie. Dit is dus nie net goed vir die huis nie , maar ook vir die omgewing. 

Laastens 'n paar interessante feite oor Boerseep:

·  Sommige mense gebruik dit as 'n plaag afweermiddel in tuine. Dit help om plantluise en ander insekte weg te hou.

·  Baie jare gelede is dit dikwels met groen klei of koperoksied gekleur. Dit is hoekom party stukkies Boerseep vandag nog daardie kenmerkende liggroen kleur bevat.

·  Moderne vervaardigers kombineer soms tradisionele metodes met moderne tegnologie om handgemaakte, geurlose of selfs geparfumeerde weergawes van dié seep te maak.

Boerseep is beslis meer as net 'n huishoudelike skoonmaakmiddel. Dit is deel van ons erfenis. Dit simboliseer die vindingrykheid, selfstandigheid en eenvoud van ons Afrikaner volk.

Ten spyte van die feit dat daar vandag produkte is om van te kies en te keur, bly Boerseep 'n gewilde keuse - nie net omdat dit werk nie, maar omdat dit herinneringe oproep van 'n tyd toe dinge meer eenvoudig en natuurlik gedoen was!

 

- JP Cilliers

Back to blog