
Koos De la Rey: Die Leeu van die Wes-Transvaal
Share
Koos De la Rey ,gebore Jacobus Herculaas De la Rey in 1847, word onthou as een van die briljantste en mees gerespekteerde Boer-generaals van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Bekend as die ‘’Leeu van die Wes-Transvaal’’, het De la Rey sy naam gevestig deur sy militêre vernuf en sy sterk gevoel vir eer.
Hy het grootgeword op die uitgestrekte vlaktes van die destydse Wes-Transvaal, waar hy ‘n uitstekende ruiter en skut geword het. Toe oorlog tussen die Boererepublieke (Zuid-Afrikaansche .Republiek en die Oranje-Vrijstaat) en die Britse Ryk uitbreek, het hy gou na vore gekom as begaafde bevelvoerder. Sy spesialiteit was guerillataktiek- om mobiliteit, verrassing en kennis van die terrein te gebruik om groter Britse magte te uitoorlê.
De la Rey was bekend vir sy deernis en sy streng gedragskode. Hy het dikwels Britse krygsgevangenes met respek behandel, wat hom die reputasie van ‘n ridderlike en regverdige man besorg het.
Na die oorlog het hy hom beywer vir versoening tussen die Boere en die Britte en het hy gehelp om die weg te baan vir die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Ongelukkig is hy op 15 September 1914 op geheimsinnige wyse by ‘n polisiepadblokkade naby Johannesburg doodgeskiet- ‘n gebeurtenis wat steeds baie vrae laat ontstaan.
Vandag presies 111 jaar sedert sy dood onthou ons Koos De la Rey as ‘n dapper leier en ‘n simbool van integriteit, wysheid en moed tydens een van Suid-Afrika se mees onstuimige tye.
-JP Cilliers