
'n Honderd jaar van Afrikaans
Share
Geskryf deur: Jean-Pierre Cilliers
Afrikaans- 'n enkele woord met soveel betekenis. Nie net is dit 'n naam of 'n taal nie, maar ook iets wat soveel emosies van trots en kultuur opwakker by die wat haar ken, haar verstaan en haar liefhet.
Afrikaans soos ons dit vandag ken het sy oorsprong by die Wes-Germaanse tale van Nederlands, Duits en Flaams wat deur Europese setlaars in die 17de eeu na die suidpunt van Afrika gebring is. Dit was egter hier op tuisbodem waar Afrikaans in haar eie reg ontwikkel het en 'n ryke woordeskat van die bogenoemde Europese tale, maar ook die van oosterse tale soos Maleis, saamgevoeg het om die taal wat ons vandag ken en praat te vorm.
Dit was egter nie 'n maklike pad tot by amptelike taalwording in 1925 nie en dit het baie veggees en deursettingsvermoe gevat om Afrikaans die erkenning te gee wat dit verdien het. Vir vandag se generasie van Afrikaans-sprekendes is dit dalk maklik om te begryp hoe hulle taal deur politieke en sosiale omstandighede bedreig word. Net so was dit die geval in die dekades voor 1925 toe Afrikaans dikwels ten gunste van Engels en Nederlands onderdruk is, maar die belangrikste is egter dat Afrikaans net beter en sterker aan die ander kant daarvan uitgekom het en ons steeds vandag daarvoor kan veg en met trots in ons taal kan praat.
Met ’n eeu van Afrikaans se bestaan is ons dankbaar vir die harde werk wat oor die afgelope eeu gedoen is om Afrikaans die taal te maak wat dit vandag is. Ons besef dat Afrikaans net kan voortleef en groei wanneer dit gepraat word. Daar is verskeie digkuns en musiek lirieke wat ons liefde en waardering vir Afrikaans verwoord, maar vir my is die volgende gedig deur Jakkie Brits beslis een wat my na aan die hart le.
Onse Afrikaans:
in haar het ek tong
het ek toordery
het ek toekoms
in haar ken ek kennis
ken ek kanse waag
ken ek krisis bestuur
weens haar hoort ek
praat en pronk ek
verstaan ek en
droom ek van 'n lewe
vol ewige son
(uit Afrikaans Onbeperk; uitgawe twee van 2025)
Mag ons geliefde moedertaal van Afrikaans met trots gevier word en vir die volgende 100 jaar net van krag tot krag gaan.
De Afrikander Handelshuis is ook onbeskaamd Afrikaans, trots op ons herkoms en verbind tot die uitbou van ons taal!