Van Riebeeck nog lank nie vergete

Van Riebeeck nog lank nie vergete

Geskryf deur: Jean-Pierre Cilliers

As jy vandag vir 'n skoolkind sou vra wat die datum 6 April vir hulle beteken? Sou meeste dit waarskynlik net herken as die laaste Sondag van die skoolvakansie. Minwetende dat hierdie dag nie net 73 jaar lank 'n openbare vakansiedag was nie, maar ook 'n baie belangrike dag in die geskiedenis van die Afrikanervolk is.

Op 6 April 1652, ongeveer 373 jaar gelede, word Jan van Riebeeck en sy manskappe van 90 koloniste, onder wie 8 vroue, die eerste Europese settelaars om 'n permanente kolonie aan die Kaap van Goeie Hoop te vestig.

Vir bykans die eerste eeu sedert 1652 is die dag jaarliks herdenk met 'n kerkdiens rondom Paastyd. Dit was eers met die eeufeesherdenking in 1752 wat 'n groot openbare feesviering in Kaapstad gehou is. Die tradisie om 90 kanonskote van die Plein by die kasteel in Kaapstad af te vier is met die geleentheid begin en word vandag steeds voortgesit.

Gedurende die 19de eeu is die herdenkings deur Afrikaner-gemeenskappe in die ou Boere-Republieke, naamlik die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat, gevier sonder enige amptelike aangeleenthede. Dit was eers in die 1920's wat die grootskaalse vierings en herdenking die dag hervat is, terwyl dit tussen 1952 en 1994 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika was. 

Die groot vraag is egter, wat beteken die dag vir die huidige generasie Afrikaners? Daar kan seker verskeie antwoorde op hierdie vraag wees, maar die feit bly staan dat 6 April 1652 die vertrekpunt was van 'n reis wat na 373 jaar nog lank nie verby is nie. Dit was die dag wat Afrikaners en hul voorgeslagte die suidpunt van Afrika hul huis begin noem het. Die dag wat gelei het tot braaivleisvure wat brand op 'n Saterdagmiddag, koeksisters en melktert met teetyd of selfs kaalvoet sokkie in 'n ou plaasstal.  Al hierdie tradisies wat vir Afrikaners vandag nog so kosbaar is, het sy wortels by hierdie dag.

So mag hierdie dag ons herinner aan wie ons as Afrikaners is, waar ons vandaan kom, wie en wat ons gevorm het en wat vir ons belangrik is in die lewe. Mag 6 April ons die moed gee om met net soveel ywer en dapperheid as daardie 90 pioniers in 1652, die toekoms binne te gaan en nooit te vergeet waar dit alles begin het nie!



 

Back to blog